Eendekuil Primêr

Ons Geskidenis

Eendekuil Primer is gelee op ‘n klein plattelandse dorpie, in die Swartlandstreek ongeveer 170km noord van Kaapstad, langs die N7 roete. Die ouergemeenskap was aanvanklik hoofsaaklik werksaam by die destydse Suid-Afrikaanse Spoorwee asook by die Sebraskop kaasfabriek. Sedert die sluiting van die Suid-Afrikaanse Spoorwee se diens na hierdie omstreke gedurende die tagtiger jare sowel as die sluiting van die kaasfabriek in die ooreenstemmende tyd, is ouers aangewese op seisoenwerk of as permanente plaasarbeiders.

In die vroeer jare was kerke baie nouer betrokke by die opvoeding van die kind en dus ook dikwels verantwoordelik vir die oprigting van skole,veral in die landelike gebiede. Eendekuil Primer is ‘n voorbeeld van so ‘n skool wat destyds deur die kerk opgerig is, in hierdie geval deur die N.G.Sendingkerk. Die skool se naam  was dus aanvanklik Eendekuil NGK Laerskool.

Volgens die hoeksteenlegging van die gebou, het die geleentheid op 10 Oktober 1957  plaasgevind en was waargeneem deur eerw.M.J.Basson. Die skool is opgerig in die Albertson woonbuurt, afgelei van die persoon Albert Basson, in lewe ‘n boer op die plaas Sorgvliedt  (aan die voet van Piekenierskloofpas), wie die grond geskenk het.

Die eerste leerder, Dirk Adonis (Markus), gebore 26:12:1949 is op 22:01:1958 by die skool ingeskryf. Dirk was een van 22 Sub.A leerders. Die eerste skoolhoof was mnr.Kotze.

Die gebou het aanvanklik uit drie klaskamers bestaan wat met petisies van mekaar geskei is sodat dit ook vinnig in ‘n saal omskep kan word. ‘n Vierde klaskamer was aangrensend, met ‘n deur wat toegang tot die saal verleen het. Die rede waarom die klaskamers so gebou  was, was natuurlik  omdat die gebou ook moes dien as kerk. Die vierde lokaal kon dus dien  as konsistorie.  Omrede die sosiale lewe destyds nog sterk om die skool gesentreer was, kon die vertrek ook dien as kleedkamer tydens skoolkonserte.

Die gebou is as kerk gebruik tot 1977, toe die gemeente reeds so gegroei het dat hulle ‘n kerksaal kon oprig onder leiding van die destydse predikant, ds.Steyn.

In die sestigerjare is twee klaskamers en ‘n kantoor vir die skoolhoof aan die toe bestaande gebou toegevoeg,vandaar die L-vormige voorkoms van die huidige hoofgebou. Hierdie veranderinge is natuurlike teweeg gebring deur mnr Humphries, wie vir mnr.Kotze as prinsipaal opgevolg het.

Mnr.Humphries se opvolger by Eendekuil NGK Laerskool was mnr.H.Feris. Onder sy inspirasie het Piketberg Skole Vereeniging (PSV) in 1967 tot stand gekom. Hierdie was ‘n organisasie wat haar beywer het om die leerders van die kleiner skole ‘n geleentheid te bied om blootstelling aan sport- en kultuurgeleenthede te kry.

Sedert 1972 is mnr.N.A.Visagie die skoolhoof. Vanaf ongeveer 1979 het die leerdertal so toegeneem dat middagskofklasse (dubbelskofklasse) ingestel moes word. In ‘n poging om middagskofklasse by skole uit te skakel is mobiele klasse gedurende die tagtigerjare by skole opgerig en wel ook te Eendekuil NGK laer. In totaal is uiteindelik vyf mobiele klasse oor ‘n termyn by Eendekuil NGK Laer opgerig.

Gedurende die jare het die skool die plase Moreson, Draaihoek, Uitkoms, Dwars-In-Die-Weg, Blindefontein, Goedemoed en Sorgvliedt bedien. Leerders moes ver ente stap om skool te kon bywoon. Leerders van byvoorbeeld Sorgvliedt het eers teen eerste pouse by die skool aangekom, maar het elke dag getrou skool bygewoon.Sedert 1981 is ‘n leerderbusvervoerdiens deur Adm. Raad van Verteenwoordigers ingestel om leerders gratis na en van die skool te vervoer. Die skool se voedingsarea is hierdeur ook na Rhenosterhoek uitgebrei. Die eerste vervoerkontrukteur was mnr.Pietersen.

In 1984 koop die Onderwys Departement die skool by die kerk oor vir ongeveer R90 000 en heet die skool sedertdien Eendekuil Primer. ‘n Eerste permanente opsigter, mnr.Willem Fortuin word aangestel. Vroeer was dit mnr.Willem Fortuin as koster van die kerk se verantwoordelikheid om ook die skool skoon te hou. Gedurende  dieselfde jaar verkry mnr.Willem Fortuin hulp in die vorm van twee algemene assistente, mevv.K.Jors en M.van der Westhuizen, om hom by te staan in sy pligte.

In 1986 is die eerste departementshoofpos aan die skool toegeken en word gevul deur mnr.D.J.Goetham. Na mnr.N.A.Visagie se uittrede in 1987, word mnr.D.J.Goetham die nuwe skoolhoof van Eendekuil Primer, terwyl mnr.P.J.Abrahams bevorder word tot departementshoof. Op 7 Julie 1987 word die eerste skoolkomitee van die skool verkies, bestaande uit mnre.J.Muller, A.September, M.Nel, J.Willemse ( Jan Mobil ) en mevv.D.Dudley en D.Afrikaner. Die uitvoerende bestuur was mnr.J.Muller (voorsitter), M.Nel ( ondervoorsitter) en die prinsipaal, mnr.D.J.Goetham die sekretaris.

Gedurende 1989 is die skoolterrein vir die eerste keer met 1,8m heining omhein. Die personeel het intussen gegroei tot 11 opvoeders.

In 1991 word die skool op n buurplaas, Kromrivier gesluit en skakel die leerders van die betrokke skool by Eendekuil Primer in. Mev.L.Klaase as skoonmakler van die betrokke skool, word oorgeplaas na Eendekuil Primer en laat die nie-opvoederpersoneel tot op vier opskuif.

Middel 1997 word die opsigter se gebede verhoor,want tot op daardie tydstip moes hy gereeld ongeveer 80m stap met die emmers van die emmerstelsel toilette op sy skouer om die emmers te gaan ledig. ‘n Ordentlike spoeltoiletkompleks met kleedkamers en storte is nou in gebruik geneem. Die laaste klok om die einde van die skooldag aan te dui het nou ook letterlik gelui, want in die toekoms sou ‘n sirene vir die doel aangewend word.

Uiteindelik word ‘n tree verder in die tegnologiese era gegee en neem Eendekuil Primer gedurende Mei 1999 haar eerste rekenaar, vir administratiewe doeleindes in gebruik, kompleet met e-pos en internet. ‘n rekenaar vra ook vir ‘n administratiewe beampte en so word laasgenoemde pos dan ook in die loop van 2000 tot die skool se diensstaat gevoeg.  ‘n Oud-leerder van die skool (ten volle gekwalifiseerd), me Monica Visagie (nee Fortuin) word dus in Aug.2000 as administratiewe beampte aangestel. Hiermee saam word een van die klaskamers aangrensend aan die kantoor omskep in admin.kantore en ‘n ontvangs lokaal. 

‘n Verdere hoogtepunt in die skool se geskiedenis was natuurlik toe een van die mobiele klaskamers met die hulp van Khanya gedurende 2006 in ‘n rekenaar laboratorium omskep is.

Gedurende 1986/87 het die destydse VGK predikant, ds.Kobus Conradie die behoefte aan ‘n speelskool vir die “Bruin” kinders op Eendekuil geidentifiseer en het sy vrou Sandra, toe ‘n skooltjie in ‘n motorhuis begin, waar “Tokkie se Winkel” vandag staan. Hierdie skooltjie het uiteindelik ontwikkel tot “Eendjies”,wat onder meer ideale omstandighede in die gemeenskapsaal, wat intussen opgerig is, onderrig ontvang het.

Sedert 01:01:2010 word gr.R ingelyf by Eendekuil Primer. Die eerste Gr.R- klas te Eendekuil Primer was ‘n goeie 34 leerders  groot. Vir die eerste ses maande was hierdie leerdertjies in ‘n mobiele eenheid gehuisves, terwyl  hul nuwe klaskamer met al die nodige fasiliteite in aanbou was. Groot was die vreugde toe hulle op 05:08:2010 hul eie “skooltjie” kon betrek en is dit dan ook op luisteryke wyse gevier.

Sedert Januarie 2014 word die geboue van die eks model C skool, Eendekuil Laerskool by Eendekuil Primer ingelyf nadat eersgenoemde skool gesluit is. Weens die toename is die Gr.R klas se getalle word Gr.R gevolglik sedert 2014 in die geboue van die destydse Eendekuil Laer gehuisves.

Eendekuil Primer deel ook in die skiereilandse voedingskema se dienste en is dit van onskatbare waarde vir die leerders.. Buitemuurs neem die skool deel in rugby, netbal,atletiek, landlope, krieket en skaak.

Met die uitdienstrede van mnr.D.J.Goetham op 31 Julie 2017, neem mnr.J.M.Rhodes in ‘n waarnemende hoedanigheid waar as skoolhoof.